Badenhorst het egter self die brand begin wat later sy bakkie, asook die ganse veld rondom sy plot, binne minute verkool het.
Danksy die blitsige reaksietyd van brandweer-leier mnr. Theuns du Preez en sy span van Mbombela nooddienste, is skade tot ‘n minimum beperk en kon hul verhoed dat die bakkie nie spontaan ontplof nie.
"Ons het gereageer op ‘n noodroep vir ‘n veldbrand.
Toe ons hier aankom het ons die bakkie gekry, wat reeds op plekke begin vlam vat het," het Du Preez op die toneel gesê.
Mnr. Christo Marais en mnr. Elliot Fulatelwa was die twee brawe lede van Du Preez se span wat verhoed het dat die brandende bakkie nie in almal se gesigte opgeblaas en meer ernstige skade aangerig het nie.
Volgens Badenhorst het hy die brand begin om die veld rondom sy plot uit te dun om te help met misdaadbekamping.
"Daar is die laaste maand drie keer by my ingebreek en die diewe los van die goed in die veld en kruip selfs daar weg.
"Ek wou net die veld uitdun sodat daar meer sigbaarheid rondom my plot is," het Badenhorst gesê.
Badenhorst het egter nie verwag dat die wind sou draai en sy eie voertuig, sowel as voertuie van verbygangers op die R40 na Witrivier, in die slag sou bly nie.
Twee motors was as gevolg van die brandende bakkie asook die veldbrand in ‘n ongeluk betrokke.
Me. Nicky Tailor het klaarblyklik met haar wynrooi Opel Corsa-bakkie in ‘n ander voertuig vasgery nadat laas-genoemde weens die brand langs die pad stadiger gery het om beter te kan sien.
Die bestuurder van die wit Volkswagen Polo, wat homself net as Constance voorgestel het, wou geen kommentaar oor die voorval lewer nie.
Die stasiebevelvoerder en kommunikasiebeampte van Witriver Polisiestasie was gister by ‘n jaarlikse skietoefening betrokke en kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Volgens mnr. André Scheepers van die Lowveld and Escarpment Fire Protection Agency (Lefpa), is daar verlede week, asook dié week, geen permitte uitgereik vir enige persoon om ‘n brand te stig nie.
"As gevolg van die warm en droë kondisies het Lefpa geen permitte uitgereik nie," het Scheepers gesê. Volgens hom kan die persone wat in die botsing betrokke was ‘n saak van brandverspreiding teen Badenhorst open, aangesien hy buite die wet gewerk het toe hy die brand begin het.




Add your business for free in the Business Directory. Advertise your profile at a minimal monthly fee. Promotions, newsletters etc.

Consumer Views